+27736824221  

Ontleding van jou hengelarea met behulp van 'n Terrein Merker
Author: Gilbert Foxcroft



ONTLEDING VAN JOU HENGELAREA MET BEHULP VAN ‘N TERREIN MERKER

Hierdie is seker die mees afgeskeepte onderwerp in hengel en ongetwyfeld die belangrikste, aangesien Karp nie oral op die bodem van ‘n dam of rivier patroleer vir kos nie.  Sekere tye van die dag/maand/jaar soek hulle vir ‘n spesifieke tipe kos en dit is waar die terrein merker tot sy volle reg kom.  Voor ons oorgaan na die ontleding van die pen/hengelarea moet ons eers verstaan waarvoor om te soek.

DIEPTE VAN DIE WATER

Wanneer jy voor jou hengel area staan is dit uiters belangrik om te weet hoe diep die water voor jou is.  As eerste indikasie wil ek weet hoe diep die water op maksimum gooi afstand aan die linkerkant tot aan die regterkant van my pen is.  Nadat ek die laaste maksimum gooi gemaak het, rol ek 10 draaie lyn terug op die katrol en haak ek die lyn in die lyn knippie op die spoel en herhaal ek die gooi oeffening weer ‘n keer en so hou ek aan totdat ek 10 meter van die oewer af is.

  Al hierdie data word gevolglik op ‘n stuk papier aangeteken en die eenderse dieptes se kolletjies gevolglik met mekaar verbind sodat die kontoere van die stuk water voor jou duidelik kan word.  Hierdie skets (gesien in diagram 1) lyk miskien na baie werk, maar dit indentifiseer vir vir my slegs 3 moontlike areas waar ek die Karp gaan probeer uitoorle.  Veral die 20 voet plato tussen 100m en 130m sal my trek soos ‘n magneet want volgens my skets is die plato ongeveer 10 meter wyd en 30 meter lank, meer as genoeg plek om ‘n mooi voer kol te bou.  Die 7 voet plato tussen die oewer en 60 meter weg, is ook ‘n moontlike opsie om ‘n aas op neer te sit.  Laastens kan jy een stok fokus op punt C wat die interseksie is tussen die 20 voet plato en die dieper water. Ondervinding het my geleer dat juis hierdie area fyn ondersoek moet word aangesien dit die “hek” blyk te wees waar die Karp uit die dieper water na die plato behoort te gaan.

STRUKTUUR

Nou dat jy ‘n rowwe skets het van die stuk water voor jou, teiken jy die 3 punte op jou skets op soek na moontlike struktuur.  As hierdie 20 voet plato ‘n weiveld is vir die Karp, gaan dit redelik hard wees en die areas om dit redelik sag.  Die teenwoordigheid van ‘n klip, boomstomp, watergras of iets dergliks gaan net soveel meer klem op hierdie area plaas.  Nou sal ek feitlik verseker weet dat ek met die korrekte voer strategie die vis gaan vang.  Skets 2 dui baie mooi vir jou aan wat ek gevind het na noukeurige ontleding en nou begin jou opsies baie duideliker word.  Die tyd wat jy spandeer met jou pen ontleding beteken meer as die tyd wat jy vir jou poliesmanne sit en kyk en wonder of daar vis in jou area is.  Dit is baie belangrik om met elke stukkie struktuur wat jy opspoor aantekeninge te maak, aangesien hierdie baie belangrike wenke gee oor waar jy die vis kan uitoorle.

WENK

Die oomblik wat jy iets interessants optel met jou merker, haak onmiddelik jou lyn op die spoel knippie in en wen jou lyn uit.  Druk nou 2 “bank sticks” 5m uit mekaar op die oewer in en wen die lyn daarom (terwyl jy tel hoeveel keer die lyn om die “bank sticks” gaan) tot jy die haak tref.  Haal die haak uit, maar merk eers die lyn met ‘n permanente merker en wen die lyn terug op jou merker stok. Doen nou dieselfde met jou hengel stok .  Maak die sinker met ‘n rekkie aan een van die “bank sticks” vas en wen die lyn X hoeveelheid keer om tot jy presies die plek kry soos met die merker stok bereik.  Haak nou die lyn op jou spoel in, merk met ‘n permanente merker en siedaar, jy sal nou met akkurate rigting presies op die regte plek land.  Die horison is baie belangrik om jou rigting te bepaal, so maak gebruik van hierdie tegniek en jy sal vele suksesse op jou kerfstok kan plaas. 

‘n Alternatief is ook om gebruik te maak van ‘n “line mate”, maar toets gerus die bogenoemde tegniek, dit werk beslis. 

TOERUSTING

Dit is belangrik om ‘n stok te gebruik soortgelyk aan dit waarmee jy hengel.  Dit sal niks help as jy verder met jou merker stok kan gooi as met jou hengel stok en jy nie by jou beplande struktuur kan uitkom nie.  Dit is ook wys om gebruik te maak van ‘n top kwaliteit BRAID wat as hooflyn kan dien, aangesien dit direk is, presies die gevoel vanaf die sinker op die stok oordra en ook ongelooflik sterk 

is.  Ek beveel gevolglik NET een so ‘n braid aan en alhoewel dit duur is, gaan dit vir jou jare se hulp gee.  Die braid ter sprake is niks anders nie as 15lb POWER PRO deur Rapala VMC.  Saam met dit gebruik ek ‘n 30lb POWER PRO voorslag en ‘n vinger hoed om mee te gooi.  Net om die eerste skets te kon bou het ek 56 gooie in 30 minute moes maak en glo my, een fout en jy sit met ‘n moontlike sny tot op die been.  POWER PRO is een van daardie braids wat gemaak is van 100% spectra garing en het ‘n ronde tekstuur wat dit ongelooflik maak vir gooi werk.  Julle gaan my nog baie in die toekoms sien skryf oor hierdie ongelooflike lyn, want ons gebruik dit selfs vir ons voerwerk.

Die eindgerei is ‘n kort, swaar 3-4oz gewig wat aan 1 voet 30lb Suffix Supple Link mono gebind is.  Aan die einde van die lyn bind ek ‘n gly kraaletjie (running bead) en tussen dit en die sinker plaas ek ‘n kurk balletjie wat dan teen die kraaletjie geplaas word.  Die doek hiervan is om die merker en die kraaletjie van die bodem af te hou te alle tye en die doel van die 1 voet lengte Supple Link is om die merker van die sinker af weg te hou tydens die werp sessie. 

Die beste metode tydens die werp van die merker is om ‘n breek deel van ‘n sekonde voor die sinker die water tref, jou vinger op die spoel te plaas en die lyn te stop.  Deur jou vinger op die spoel te hou terwyl die sinker deur die water val kry jy ‘n baie definitiewe gevoel die oomblik wat die sinker die bodem tref.  Jy sal sommer onmiddelik weet of dit ‘n harde bodem of ‘n sagte een is deur die gevoel wat jy deur die stok en jou vinger kry.  Die feit dat jy die lyn stop voor die sinker die water tref, help ook om enige moontlike opdraai van die lyn om die kraaletjie te stop.  So weet jy beslis dat jy ‘n akkurate lesing vanaf jou merker gaan kry.

Nou dat jy die gly gedeelte van jou merker uitgesorteer het, moet die spul aan mekaar gesit word.  Jy moet eerstens sorg dat die hoof lyn eers deur die gly kraaletjie moet gaan, daarna deur ‘n rubber kraaletjie wat enige lyn draai stop, maar ook dien as skok breker tydens die werp.  Na die rubber kraaletjie maak jy die merker met behulp van ‘n Polomar – of dubbel Grinner knoop vas.  Braid is geneig om met ander knope te gly, so maak baie seker dat jy een van die bogenoemde knope gebruik.  Jou merker is nou gereed om gewerp te word.  Vir diegene wat nog nooit met braid gegooi het nie, wees baie versigtig aangesien jou vingers regtig baie seer kan kry sou jou spoel nie behoorlik vas gedraai is nie.  Laastens moet jy jou stok akkuraat merk met ‘n stukkie “insulation tape”, presies 1 voet vanaf die katrol se armpie.  Maak gevolglik ook seker dat jou katrol se arm elke keer in dieselfde posisie is wanneer jy lyn aftel van die spoel af en onthou om 1 voet by te tel vir die 1 voet Supple Link aan die sinker.

Sterkte met die terrein ontledings.  Volgende maand handteer ons effektiewe voer straterie.

Hou daai lyne styf.

Gilbert Foxcroft




Visitors also viewed the following:

 
1. A-Z of fishing - Bait Combinations 2775
Author: Hein Henning    Date Published: 09 December 2019

2. A-Z of fishing - The Carp 2558
Author: Hein Henning    Date Published: 09 December 2019

3. A-Z of fishing - Traces / Baits 1573
Author: Hein Henning    Date Published: 09 December 2019

4. Kies die regte oewer om by te hengel 1140
Author: Glibert Foxcroft    Date Published: 06 January 2020



Article Index  Back to Top

© Copyright FishingPages 2024. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of FishingPages.